Wednesday, January 16, 2008

Dirkie Uys

11 April
1838


Dirkie Uys sneuwel

Dirk Cornelis Uys, wat op 3 Maart 1823 op Pollenberg gebore is, was die tweede oudste seun van die Voortrekkerleier Piet Uys. Toe Hy oorlede is, was hy 14/15 jaar oud. Na die moord op Retief en sy mense en die Zoeloe-aanval op die Voortrekkers tien, elf dae later, het die Voortrekkers besluit om Dingaan te gaan straf en hulle beeste terug te vat.

Op 7 April 1838 het ‘n perdekommando onder twee kommandante, Piet Uys en Hendrik Potgieter, uitgetrek. Dirkie het saamgegaan. Die elfde het hulle in die omgewing van die Italaberg by Italeni met die Zoeloe-impi slaags geraak. Uys se afdeling het die Zoeloes wat teen die hange van die berg was, aangeval. Hulle het spoedig die Zoeloes uitmekaar gedryf en hulle toe in groepies agtervolg. In die proses is sommige van Uys se mense afgesny en deur Zoeloes omsingel. Piet en Dirkie het juis sulke mense gaan help toe ‘n assegaai Piet getref en hom swaar gewond het. Die wond het baie gebloei, maar hy het darem op sy perd aangesukkel. Hy het ‘n paar keer flou geword. Toe hy nie verder kon nie, het hy die mense wat by hom was, aangeraai om vir hulle veiligheid te vlug.

Almal het weggejaag, behalwe die jongeling Dirkie Uys wat omgedraai het aangesien hy nie kon toesien dat sy vader met assegaaie deurboor word nie. Dirkie het by sy vader gebly en hom verdedig. Nadat Dirkie drie krygers doodgeskiet het is hy by sy vader se lyk oorval en deur ‘n assegaai getref.
aka fak sakb vtl.
Oorvertel deur RoosMaryn
11 April 2007

Jopie Fourie


1914
Jopie Fourie se teregstelling


Gebore op 27 Augustus 1878 op die familieplaas Wildebeesthoek, distrik Pretoria, het Joseph Johannes (Jopie) Fourie, nadat hy in verskeie skole in Pretoria was, aan die Greykollege, Bloemfontein, gestudeer. Hy onderbreek sy studie om aan die gevangenneming van Jameson by Doornkop deel te nee, en besoek daarna die Victoria-kollege op Stellenbosch, om uiteindelik tot die kantoor van die Ouditeur-generaal van die ZAR toe te tree.
In die Engelse Oorlog onderskei hy hom as ‘n bekwame rapportryer en onverskrokke vegter. Nooit het hy teruggedeins om die gevaarlikste take te onderneem nie. Hy word sodanig verwond dat hy aan die eenkant van sy hoof sy gesig en gehoor verloor. Na die oorlog lê hy hom toe op die boerdery op die familieplaas en is hy ‘n troue ondersteuner van genl.. Botha en sy Het Volk Party. Genl. Beyers wil hom oorhaal om by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag in 1912 aan te sluit, maar dit loop slegs uit op ‘n kapteinskap in die Burgermag. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog, het hy bedenkinge oor Botha se besluit om Duits-Suidwes-Afrika aan te val, maar sy aktiewe inskakeling by die protesterendes word veroorsaak deur die optrede van ‘n Engelssprekende gepeupel op die Krugerdagverrigtinge in Pretoria, waarby genl. Beyers verhinder is om as spreker op te tree. Teen die einde van Oktober 1914 bevind hy hom gewapend in die veld onder bevel van genl.. J.J. Pienaar. Na verskeie skermutselinge, waarin die regeringstroepe swaar verliese ly, is hy op 16 Desember saam met sy jonger broer en verskeie ander by Nooitgedacht, in die Rustenburg-distrik, deur ‘n oormag gevange geneem. Klaarblyklik om van hulle ‘n voorbeeld te maak, is ‘n krygsraad op ‘n oorhaastige wyse saamgestel en Jopie en sy broer van hoogverraad aangekla, omdat hulle nie as lede van die Burgermag bedank het voordat hulle die wapens opgeneem het nie. Sy broer Hannes is tot vyf jaar harde-arbeid gevonnis, terwyl Jopie die doodvonnis opgelê is. Pogings van dr. D.F. Malan, ds. C.A. Neethling en ander om genl.. J.C. Smuts, Minister van Verdediging, op te spoor om Jopie se vonnis te versag, misluk. Vroeg die Sondagoggend van 20 Desember 1914 is Jopie deur ‘n vuurpeloton gefusilleer. Hartroerende briewe, o.m. aan sy volk, eggenote, advokaat, prokureur en aan genl.. Louis Botha, wat kort voor sy dood in die tronk geskryf is, is mettertyd by honderdtalle afgeskryf en onder Afrikaners versprei. Die oorhaastige verhoor en voltrekking van sy vonnis sou die Afrikanervolk diep skok, en die verontwaardiging teen die optrede sou tot die snelle opbloei van die Nasionale Party lei. Dekades lank sou dit ook teen genl.. Smuts se hoof geslinger word dat hy vir die dood van Jopie verantwoordelik gehou moet word. Sy oorskot is verskeie kere herbegrawe, maar tans rus dit in die Ou Kerkhof in Pretoria. Op sy grafsteen pryk die woorde: “Getrou tot die dood. Geoffer vir Volk en Vaderland.” aka fak prof. dr. M.C.E. Van Schoor

Oorvertel deur RoosMaryn
20 Desember 2008

Wolraad Woltemade

Verskriklike Skeepsramp in Tafelbaai

138 Mense Verloor Lewe in Toringhoë Golwe

Melkboer Red 14
Verdrink self toe hy weer probeer


Die ramp het ‘n heldedaad opgelewer wat seker tot in die vêrste nageslag in Suid-Afrika onthou sal word; ‘n melkboer het die woeste see sewe keer met sy perd getrotseer en 14 mense uit die golwe gered. Die agtste keer het hy en sy uitgeputte perd saam verdrink.

Sy naam is Wolraad Woltemade.
Die skip is De Jonge Thomas.


Kasteel Die Goeie Hoop,
2 Junie 1773.-


In ‘n ontsettende skeepsramp in Tafelbaai het 138 mense die lewe verloor deurdat hul skip in ‘n onstuimige see tydens ‘n baie sterk wind op die strand te pletter geslaan is.

Vandag het die lyke van Woltemade en skipper Barend de la Maire, bevelvoerder van die verongelukte skip, by Soutrivier op die strand uitgespoel. Die begrafnis sal op 4 Junie plaasvind.

As De Jonge Thomas ‘n rukkie later by Kaapstad aangekom het, sou hy die ongeluk vrygespring het, aangesien geen skip van die Kompanjie tussen 15 Mei en 15 Augustus na Tafelbaai mag kom nie, maar na Valsbaai moet gaan. De Jonge Thomas het egter voor 15 Mei hier aangekom, met die gevolg dat hy na 15 Mei nog in Tafelbaai gelê het. Toe die ramp hom tref, het die skip gereed gelê om na Batavia te vertrek.

Op 31 Mei het ‘n sterk noordwestewind begin waai. Die see het al hoe onstuimiger geword, en eergisteroggend tussen vyf- en sesuur is die skip van sy anker losgeslaan. Daarna het hy nie meer lank gehou nie. Om halfsewe het die toringhoë golwe hom op die strand by Soutrivier aan stukke geslaan.

Die ekwipagiemeester en soldate van die Kompanjie het op perde en met ossewaens en ‘n skuit na die ongelukstoneel gesnel om hulp te verleen. Maar nog voor hulle oor die Soutrivier kon kom, was die grootste deel van die bemanning reeds verdrink.

Deel van die bemanning het nog wanhopige pogings aangewend om na die land toe te swem en ‘n ander deel het aan die romp van die skip, wat bo die water uitgesteek het, vasgeklou. Wolraad Woltemade, wat elke môre vroeg langs die strand na sy werk gery het, het hul wanhopige pogings gesien en het sy perd in die rigting van die skip laat swem om die ongelukkiges te help. Twee-twee het die skipbreukelinge aan sy perd vasgegryp en saam met die dier en sy ruiter strand toe geswem. Sewe maal het perd en ruiter met twee drenkelinge die strand bereik, maar die agtste maal het Woltemade en die uitgeputte dier in die golwe omgekom. Saam met die veertien man wat deur Wolraad gered is, het slegs sewe-en-sestig man aan die dood ontsnap.

Wolraad Woltemade was volgens die monsterrol in Schomburg in Duitsland gebore. Van 1752 tot 1755 was hy as korporaal werksaam op die Kompanjie se buitepos by die Steenberge. In 1770 het hy dergelike werk op Muizenberg gedoen, maar die jaar daarop het hy hom nader aan die Kaap as melkboer kom vestig. Hy was baie hardwerkend en dit is ook bekend dat hy gehelp het om die diere in die tuin bokant die Kompanjiestuin te versorg.

Woltemade se vrou, Janna Charlotta, het in Europa bly woon. Sy seun Christian Ludwig Woltemade is egter korporaal in diens van die Kompanjie. Hy was een van die eerstes wat by Paardeneiland diens gedoen het om te waak teen moontlike strandroof. Hy het die lyk van sy vader dadelik uitgeken. Die oorledene het nog ‘n seun, wat in Batavia woon. Die gebeurtenis het ‘n baie diep indruk op almal aan die Kaap gemaak.
Nuusbode
RoosMaryn
15 Januarie 2008

Wat maak van my ‘n Held?

Wat maak van my ‘n Held?

Wat maak van mense helde, is dit vrees vir die oomblik, vrees vir spesifieke of onbekende gebeure wat kan of gaan plaasvind, vrees vir gevolge, of is dit eenvoudig ‘n ingebore of aangebore kwaliteit wat sommige mense het, kan net leiers en bekendes helde wees of kan ENIGIEMAND al is dit slegs ‘n volgeling ‘n held wees of word? Watter inherente kwaliteite moet ek oor beskik en aan watter kriteria moet ek voldoen om ‘n held te kan wees?

Sien ek my held in iemand soos die kleine Racheltjie de Beer wat met haar edele daad die lewe van haar boetie gered het? Wat het op daardie oomblikke werklik deur haar gedagtes gegaan kan mens jouself afvra. Was sy bang dat sy sou raas kry indien haar boetie iets sou oorkom in die koue omdat sy hom toegelaat het om saam met haar te gaan op haar soektog na die verlore vers kalf, of was dit uit ‘n ingebore onbaatsugtige liefde vir haar boetie?

Nee dalk liewer Dirkie Uys! Wat het van Dirkie ‘n held gemaak, sy onverskrokkenheid om dapper deur ‘n oormag te bars om sy vader te help, of was dit die liefde vir sy vader wat hom daartoe genoop het om ammunisie by die groepie boere te kry? Dalk onthou ons hom vandag nog omdat hy die seun van Piet Uys was.

Wat maak dat ek sy helde daad onthou en Dirkie aldus as held onthou, en van ander soos Jannie Bezuidenhout vergeet? Die veertienjarige seun van Frederick Bezuidenhout en sy moeder, wat in 1816 in die omgewing van Slagtersnek, saam met sy vader, vir sy vader, vir dit waarin sy vader geglo het, vir ‘n trotse familienaam, sy aan sy saam met sy vader en sy moeder teen 130 soldate en ‘swartes’ vir die vryheid en geregtigheid van hul vader en eggenoot geveg het, maar oorleef het. Moes Jannie dan eerder gesterf het om ‘n held te wees en onthou te word?

Is ‘n held dan noodwendig iemand wat sy lewe vir ander opgeoffer het en dan en nog by dit alles verwant is aan een of ander bekende figuur?

Wat maak dat ek vir Wolraadt Woltemade onthou maar vir Jochem Willemsz (Die kwartiermeester van die Spierdyk) vergeet het of nie van geweet het nie?

Watter soort held is ek dan na opsoek? Moet hierdie persoon ‘n politieke held wees, ‘n onderwyser, of liewer ‘n dominee, of ‘n kerk, of Godsdienstige- of Geloofsheld, of moet dit iemand wees wat dalk sy of haar lewe op ge-offer om my lewe red? Moet dit ‘n kinder held wees of moet dit nou ‘n volwasse manlike of vroulike held wees? Is dit dalk die man of die kind wat sy lewe vir sy volk en vaderland opoffer?

Is alleen die seun of dogter wat in die verlede woeste en wilde aanvalle van assegaai oorleef en moontlik die storie vertel, helde?

Is die dogter wat vandag geweld en verkragting oorleef dan nie ook ‘n held nie? Die kind wat uit die mag van dwelms en bendes “ontsnap”, is hulle nie ook helde? As hierdie mense van vandag terugkom en vertel van ‘n groter en sterker mag wat hulle nie kon of kan verstaan wat besit van hul gees en liggaam geneem het, en ‘n waarskuwing rig aan ander om hierdie dwase dinge te vermy? Maak so ‘n waarskuwing aan ander iemand nou ‘n held of ‘n dwaas?

Is dit dalk die persoon wat sê: “Jy gaan jou vinger verbrysel! hou liewer die spyker so vas wanneer jy die hammer gebruik” of dalk is dit wanneer die waarskuwing geuiter word: “Blaas eers bietjie voordat ouma die koffie drink, dis dalk nog bietjie warm”.

Is dit dan slegs die bekende of sy nasaat waarna opgekyk word om ‘n held of helde daad te soek en te vind. Wat van die onbekende, die gewone, die alleman, die gewone man van vandag en môre, sien ek of wil ek nie sien dat daar nou helde is of nog gebore gaan word nie? Deur watter bril wil ek dan kyk om ‘n held te vind of uit te sonder?

Elke situasie het tog sekerlik dan sy eie held, maar hoekom soek ek dan na die held wat ek nie kan kry nie. Soek ek te “Groot”, te “Deftig”, te “Slim”, te “my politiek”, te “jou politiek” te “my geloof”, te “jou geloof”. Soek ek my held in die persoon wat sy staan maak in ‘n land wat oorweldig is van geweld en misdaad, of is die held die een wat terwille van sy nageslag ‘n beter heenkome soek? Vir almal van ons is daar ‘n ander beeld van wat ‘n held werklik is. Die onmiddellike omstandighede of situasie verleen hom om sy eie helde na sy eie omstandighede en karakter te hê.

Of is ‘n held ook dalk die twee-jarige seuntjie aan die hand van sy Moeder wat sê: “Pasop Mamma! daal’s ‘n ‘dolingkie vool jou voetjie’ of die twee-jarige dogtertjie wat op haar Pappa se skouers sit, sodat sy die wêreld mooi kan sien terwyl hulle deur die winkel sentrum stap, en skielik uitroep: “Pasop Pappa gaan hom koppie stamp!” min wetend dat as Pappa voortstap dit eintlik haar koppie en lyfie is wat gestamp gaan word as haar Pappa nie pasop nie. Nee dan dink sy nie aan haar eie veiligheid nie, maar slegs aan hierdie Vader figuur wat haar held is en tog net nie moet seerkry nie. Maak hierdie noodkrete dan nie kleine kindertjies ook helde nie?

Of wat dan van die vrou wat haar man waarsku om nie aan die warm skottels te vat nie, want hy gaan brand? Of dalk die man wat die groot mes in sy hande neem en die harde-skil groente deursny sodat sy vrou haarself nie dalk moet beseer nie?

Ek soek en soek my eie helde van vandag, maar totdat ek nie gaan toelaat dat ek met ander oë kyk na die dinge wat om my gebeur nie, sal ek nooit my eie helde en helde dade kan raaksien nie.

Gaan ek dan altyd terug in die verlede om my held te soek, of gaan ek my oë oopmaak om te sien dat daar in meer mense en gebeurtenisse om my ‘n held is?

Iemand het eenkeer gesê: “Die kind van vandag is die man van more. Die toekoms van die nasie hang af van die kind. As die kinders swak van liggaam en swak van karakter opgroei dan sal die nasie binne ‘n paar jaar ‘n papbroek nasie wees, sonder krag en sonder ruggraat. As die kinders reg grootgemaak en opgevoed word dan hoef mens nie te vrees vir die toekoms van die nasie nie”.

Het dit nie nou die tyd geword dat ek NIE NET in die verlede na helde, bekend of onbekend soek nie, maar begin om my oë oop te maak om VANDAG en MôRE se helde om my raak te sien nie? Miskien moet ek net reg begin soek om hulle raak te sien.

Dan vra ek weer: Wat maak van mense helde, is dit vrees vir die oomblik, vrees vir spesifieke of onbekende gebeure wat kan of gaan plaasvind, vrees vir gevolge, of is dit eenvoudig ‘n ingebore of aangebore kwaliteit wat sommige mense het, kan net leiers en bekendes helde wees of kan ENIGIEMAND al is dit slegs ‘n volgeling ‘n held wees of word? Watter inherente kwaliteite moet ek oor beskik en aan watter kriteria moet ek voldoen om ‘n held te wees?

Van nou af gaan ek my oë oopmaak en kyk om te sien, en my ore oopmaak en luister om te hoor. Wie weet, dalk is jy nog die held van die geskiedenis van vandag of van die toekoms van môre.

RoosMaryn
30 Desember 2007